1975

Uit die pen van Fanie Richter >>>

Atlete vir Christus – die ontstaan

Tog wonderbaarlik hoe die Here iets voorberei en tot stand bring.

Op skool was ek ’n naelloper, tot in standerd 8. Op Piketberg het ons twee jaar in een ouderdomsgroep deelgeneem. Ek was te jonk vir my standerd en aan die begin van standerd 9 was dit my eerste jaar in die o.17-span. Ek het skielik besef dat ek teen “groot manne” moes nael vir ’n plek in die span. Sonder om enigsins in die somervakansie te oefen, gaan tree ek een middag “op die ingewing van die oomblik” en vir die aardigheid aan by die bondel o. 17- en o. 19-atlete vir ’n 800 m-proefwedloop. En ek kom tweede, op die hakke van die o. 19- provinsiale atleet in ons skool. ’n Onverwagte talent. In my tweede jaar in die o. 17-span, toe ek matriek was, was ek geseënd om ’n rekord vir Boland Skole in die 800 m vir o. 17’s op te stel.

Ná skool het ek vir die Leër Gimnasium en later in die Suid-Transvaalse liga in die 400 m en 800 m deelgeneem. In die 1973/1974-baanseisoen het ek relatief goed begin vaar teen top- nasionale atlete. Maar in die middel van die seisoen het ek twee keer griep gekry wat nie wou opklaar nie (ongewoon vir my). Dit het my vir ses weke buite aksie geplaas.

Saam met kerkjeugaktiwiteite en ’n veeleisende pos by Krygkor, waartydens ek dikwels oor naweke moes werk, besluit ek om die baan vaarwel te roep en slegs padwedlope te begin geniet. Toe byt die Comrades-gogga my, en ek het begin oefen saam met ’n vriend wat sy derde wedloop sou aflê. Hoewel ek volgens hom ’n silwermedalje behoort te kon kry, besef ek drie weke voor die wedloop, weens my verantwoordelikhede, dat die baie ure se oefen, ook op Sondae, vir my byna soos ’n afgod geraak het.

Toe besluit op ’n persoonlike doelstelling – ’n solodraftog vanaf Beitbrug tot in Kaapstad, om daarmee fondse in te samel vir die destydse Suiderkruisfonds, vir die “manne op die grens”. (Ek het baie jare gelede ’n uitknipsel daaroor uit Krygkor se nuusbrief, saam met my Atlete vir Christus-frokkie en -T-hemp van 1975 en my toerjoernaal, vir die Atlete vir Christus-kantoor geskenk.)

Maar die Here het iets anders in my hart en denke bewerk: Daar was reeds baie geld vir die Suiderkruisfonds ingesamel. Waarom nie vir sendingwerk nie? En dit is nie nodig dat al die aandag op my val nie.

Ek het begin dink aan ’n aflos-toer, saamgestel uit “atlete” in ons Kerkjeugaksie (KJA) – Atlete vir Christus – saam met ’n sanggroep, vir aandoptredes met getuienisse in die oornagdorpe. Maar toe begin dink ek dis dalk te vergesog, dat ek realisties moet wees en die “droom” moet los.

In daardie selfde week kondig ons KJA-voorsitter aan dat Campus Crusade for Christ die komende Sondagaand ’n filmvertoning by die buurgemeente, Horison in Roodepoort, aanbied oor hulle Athletes in Action-program in Amerika (basketbalspanne wat tydens ligawedstryde getuig). Dié aand oortuig die Here my dat daar plek is vir die gedagte wat Hy in my geplant het en dat ek moet voortgaan. (Op 11 Februarie 1974 het die Here my ook oortuig om predikant te word.)

Die visie was: ’n Atlete vir Christus-span, met ’n sanggroep, wat tydens die somervakansie van 1974 vanaf Beitbrug tot in Kaapstad sou hardloop om fondse in te samel en te verdeel onder die streeksinodes se sendingwerk. (Dit is dan ook waarvoor 1975 se R3 600 gegaan het.) Wyle ds Ben Smit van Horison-gemeente sou die toerpa wees. ’n Sanggroep het een maal per week onder leiding van ’n KJA-lid se ma geoefen. (’n Teologie-klasmaat van later, ds Gerhard Barnard van Ermelo-Oos en later Logos-gemeente van Kaapstad, was ook deel van die groep.) Die eerste logo vir Atlete vir Christus – NG Kerk is ontwerp en ons het fondse ingesamel vir alles wat ons sou nodig hê.

Geleidelik het sommige se beserings en die feit dat ander nie verlof kon kry nie ons planne deurmekaar begin krap. Eintlik was ek die enigste werklike atleet in die groep. Ek het besef dat die gedagte liewer Stellenbosch toe moes gaan, waar daar genoeg atlete sou wees vir die droom. Toe ek met ds Ben hieroor gesels, het hy heelhartig saamgestem. Die Here het hom ses maande vroeër oortuig om eendag in sy vorige buurgemeente, Copperton, te gaan dien en die beroep het in die week voor ons gesprek gekom. Ons het saam besluit dat ek die plan liewers vanaf Stellenbosch moet loods.

Ek het dit met al die donateurs bespreek en hulle het eenparig gesê ek moet die fondse oorplaas na ’n bankrekening in Stellenbosch. Die bedrag was R364, destyds gelykstaande aan ’n gemiddelde maandelikse salaris.

Op die eerste Saterdag van 1975 se akademiese jaar het die ACSV ’n uitstappie vir die eerstejaars aangebied na Voortrekker Park in die Strand. Daar loop ek toe vir Ronel Kretchmer (nou Gouws) raak. Sy was op Piketberg in standerd 8 en ons kleure-atletiekspan se dirigent toe ek in matriek was. Ek vertel toe vir haar van my visie. Sy het dadelik gesê dat sy glo hulle sanggroep, Soteria, sal deel van die span kan vorm en sy stel my voor aan een van hulle lede, André (“Broer”) Brink.

Die volgende week, tydens ’n ACSV-braaivleisaand by ’n terrein teen Papegaaiberg, Stellenbosch, bied André, wat verantwoordelik was vir die klankstelsel, vir my ’n kans om met die studente te gesels en ’n uitnodiging te rig aan atlete en persoonlike werkers wat deel van die span wil wees. Dis waar ek vir Norman Burger, hulle sanggroepleier, ontmoet het. Van daar af het ons verdere reëlings begin tref.

Dit is ongeveer hoe 1975 se span vorm gekry het.

Die 1975-span

Vergewe nou my geheue (ek het ongelukkig nie meer my joernaal nie), maar sover ek kan onthou het ons span bestaan uit:

Atlete: Ek, Johan Bothma, Gert Esterhuyse, Tommy Immelman, Kobus Laubscher, Wilhelm van Deventer, Gerrit van den Heever en Herman Wolff. (Hannes Koegelenberg, regs op die aangehegte foto, kon uiteindelik nie saam gaan toer nie.)

Sanggroep (met dames se nooiensvanne): Norman Burger, André Brink, Herman van der Merwe, Hermien Buckle, Ronel Kretchmer, Estie Retief en Tina Strauss.

Persoonlike werkers (met dames se nooiensvanne): Riana Bouwer, Annaline Hugo, Retha Stofberg, Ronelle van der Walt en Lynette Kotzé van RAU (UJ), wat oorspronklik deel van ons Wes-Rand-span sou wees en wat spesiaal gevra het om saam te toer. (Sy is later in ’n motorongeluk oorlede.)

Hennie Mouton het die bagasiebussie bestuur.

Toerouers

Ds Bombaai en tannie San van Rensburg. (Hulle was liewe mense, en ds Bombaai se preke was altyd baie treffend.)

Roete

Ek het ’n roete van ongeveer 2 000 km uitgewerk, vanaf Kaapstad se Stadsaal tot by die Goudstad Onderwyskollege in Johannesburg. Ons sou dit oor ’n tydperk van drie weke in die wintervakansie aflê.

Sover ek kan onthou, dui ek die roete aan met O (Oornag) en SS (Saterdag- en Sondagnag): Kaapstad (waar al die atlete saam weggespring het vir die eerste kilometer), Strand (O), Gordonsbaai, Kleinmond (O), Caledon (O), Riviersonderend, Swellendam (O), Heidelberg, Riversdal, Albertinia (O), Mosselbaai, George, Buffelsbaai (SS), Knysna, Humansdorp (O), Port Elizabeth (O), Uitenhage, Wolwefontein, Jansenville (O), Graaff-Reinet (O), Middelburg (O), Colesberg (SS), Springfontein (O), Bloemfontein (O), Winburg (O), Ventersburg, Kroonstad (O), Vredefort, Parys, Sasolburg (O), Vanderbijlpark en Johannesburg (Einde).

Vergaderings en toerreëlings

Ons het Dinsdagaande in Huis ten Bosch, Ronel Kretchmer se koshuis, se sitkamer bymekaargekom en saam gebid. Kort voor die toer kon ek weens twee toetse op ’n Dinsdagaand nie die vergaderings lei nie. Ek het vir Norman Burger gevra om vir my in te staan. Ongeveer drie weke voor die toer het ons nog net van 17 gemeentes terugvoering ontvang en steeds ’n bussie nodig gehad. Ons het met erns aanhou bid en ek het R84 se telegramme aan die res van die gemeentes gestuur. Toe begin die antwoorde skielik instroom. Iemand het ook vir ons ’n bussie geleen.

Ons toer het begin sonder bevestiging van slaapplek in een van die eerste week se oornagdorpe. Die gemeentes wou ook nie donasies gee nie, hoewel een leraar ons (en sendingwerk) goedgesind was. Hy het gereël dat byna die hele span by hulle in die pastorie kon oornag en die res by ’n ander gesin. Die munisipaliteit het toestemming gegee dat ons ’n straatkollekte mag opneem.

Ons het ook nog geen terugvoering van Kroonstad ontvang nie. ’n Paar dae voordat ons daar moes oornag, hoor ons dat ons in ’n koshuis van die Gevangeniswese (vandag Korrektiewe Dienste) se opleidingskollege mag oornag. Én ons kry ’n stampvol saal met al die studente asook ’n klompie ander mense!

Voortoerkamp

By die Tricelle-kampterrein in Jonkershoek het ons ’n voortoerkamp gehou. Ek en Ronel Kretchmer (damesleier) moes die Vrydagnamiddag eers geskenkte kaas van die destydse kaasfabriek in Eendekuil (waar ons plaas is) asook bokse geskenkte beskuit vir die kamp gaan haal. Ons sou eers teen ongeveer 18:00 terug wees. Weer het ek vir Norman gevra om vir my in te staan totdat ons terug is. Dit het blykbaar verwarring by sommige van die dames veroorsaak. Met ons terugkeer hoor ons hoe sommige van hulle die ander roep met: “Die leier sê ons moet naderstaan vir aandete.” Ek het onmiddellik besef watter situasie dit skep en vir Ronel en van die spanlede wat naby aan ons gestaan het, gesê om dit net so te aanvaar ter wille van die eenheid in die groep.

Ná ’n verdere gebeurlikheid was dit seker ook maar goed so. Die Saterdagmiddag, ’n rukkie voordat die atlete sou gaan draf, wou ’n klompie eers sokker speel. Innerlik het ek gevoel atlete speel nie sokker nie. Maar as die oudste onder hulle (weens my vorige jare in die weermag en by Krygkor) wou ek nie ’n “spoil sport” wees en hulle geesdrif demp nie. Ek het maar gehoop vir die beste. Toe verstuit ék my regtergroottoon teen oom Bombaai se maermerrie. Dit het my seer bekom op die toer …

Voertuie

Ons het getoer met ’n Nissan-bussie van ’n vervoermaatskappy op Stellenbosch, ’n toegeboude blou Toyota-afleweringsbussie vir ons bagasie en ’n Volvo-stasiewa van Estie se ouers, wat sy bestuur het. Agter in die stasiewa was ’n matras sodat die atleet wat so pas klaar gehardloop het en die atleet wat volgende moes hardloop daarop kon lê en rus. Dié motor was ook die atlete se diensvoertuig wat saam met hulle beweeg het, terwyl die ander soggens langs die pad stilgehou het vir stiltetyd en in die dorpe omgegaan het om gemeentes se bydraes te ontvang en te “bras” (dit wil sê, die verversings en koeldrank van die gemeentes te geniet; die meisies het gewoonlik al die koek opgeëet wat vir die atlete op pad bedoel was).

Enkele herinneringe aan die 1975-toer

Die eerste namiddag in die Strand, waar ons ook oornag het, het ’n dokter (wat blykbaar nie goed vertroud was met sportbeserings nie) breë hegpleister om my beseerde groottoon en voet geplak en gesê ek moet liewer nie voor die Donderdag weer hardloop nie. Ons was egter onbewus van vele padaanbouings en -verleggings voor Caledon. Ons het dit eers die Woensdag ontdek. Dit het veroorsaak dat die roete presies een skof te veel vir die ander atlete was. Omdat ek die roete beplan het, het ek verantwoordelikheid aanvaar en gesê ek voel goed en sal die laaste skof hardloop. Die laaste paar kilometer tot in Caledon het ek algaande ’n brandpyn onder my voet se brug begin voel – ’n blaas so groot soos my duim weens die stremming teen die pleister! Ons het my voet en tekkie ge-“pad”, maar teen die Saterdagoggend het ek kort voor Buffelsbaai gaan staan met bloed wat uit die rou seer geloop het, asook uit die wond wat veroorsaak is deur my kleintoontjie wat in die toon langsaan ingekerf het omdat ek op die kant van my voet moes hardloop om die ergste pyn te probeer vermy. Die Maandagoggend is ek na die Knysna-hospitaal en ek was ’n week buite aksie.

Ons het toestemming gehad om straatkollektes te hou. Ek het meestal die tekkie van my seer voet uitgetrek. In Swellendam het ek en Ronel Kretchmer saam geld ingesamel, sy met die blikkie vir munte, en ek met my een tekkie in my hand vir note. Dit het nogal goed gewerk!

Dubbele skofte (volle marathon)

Die Maandagoggend vanaf Buffelsbaai het die toer se langste én moeilikste skof voorgelê. Dit het die Bloukrans- en Mooirivierpas ingesluit. Ons het die naweek spesiaal die Here se hulp gevra. Ons het reeds vroegoggend in die donker weggespring. Toe ons vanaf die hospitaal by die groep aansluit, was dit juis in een van die passe – en daar hardloop twee atlete saam! Die Here se Gees het hulle so aangespoor dat almal daardie dag dubbelskofte gehardloop het om mekaar moreel te ondersteun. Elkeen het ’n standaardmarathon voltooi, met geen negatiewe gevolge nie.

“Hospitaaltyd”

Elke dag, êrens voor middagete, is die namaaksel van ’n destydse program op Springbok Radio aangebied, om te skerts oor elkeen se skete en sekere twyfelagtige medisyne daarvoor voor te skryf.

Casanova en flirt

“Speurders” het die span goed dopgehou en elke dag ’n “casanova” en “flirt” van die vorige dag aangekondig. Op een van die dorpe in die Oos-Kaap moes ek en Gert Esterhuyse ’n dubbelbed deel, nogal by welgestelde mense. Dit was een van die langste dagskofte en Gert het eers teen 20:00 die dorp binnegehardloop. Ons was reeds met die aandprogram besig. Ek was reeds bewus van die slaapreëlings en ons bagasie was in een kamer. Gert moes ná die optrede gaan stort. Ek het gesorg dat ek gou in die bed kom en het gemaak of ek al slaap. Ek sal julle enige verdere besonderhede spaar, maar die volgende dag is ek (as die langste spanlid) as casanova en Gert as flirt aangewys.

Een van die dames moes op ’n sekere dorp by armoedige, maar liefdevolle mense ’n bed met hulle vyfjarige seuntjie deel. Sy vertel dat sy net bang was die bed sou klam word.

Port Elizabeth

Die verkeersdepartement het ons die stad in gelei en die burgemeester het ons plegtig, met ketting en al, ontvang. Hy het ons ook vryheid van die stad aangebied.

Colesberg

Ná ’n strawwe week en Saterdag op die pad, slaap ek en Wilhelm van Deventer by ’n welgestelde ouerige man en vrou oor. Met aandete vertel die vrou rustig vir ons dat hulle saans “maar lig eet”. Ons kry toe elk ’n halwe gekookte eier, een sny brood en koffie.

Die aandoptrede was by ds Johann Symington se VGK-gemeente. Hy het gereël dat ons almal ná die tyd by sy pastorie kom tee drink. Daar wag vyf van die Moedergemeente se vroue en hulle dogters ons in by die toe nog ongetroude dominee se huis om ons te bedien. Iemand het hom van ons ete vertel, waarop daar toe sommer vir ons twee nog ’n volle aandete voorgesit word.

Te oordeel aan ons waarneming het ek en Wilhelm nogal gewonder waar die lojaliteit van dié vriendelike, dienswillige dames die meeste gelê het – by ons, of by die jong ongetroude dominee …

Die kat

Op Buffelsbaai het iemand dit goedgedink om vir Broer (André Brink) met sy troetelkat te verras. Ons almal het by iemand se strandhuis oorgebly en ’n paar van die manne het ’n groot kamer met ’n paar beddens gedeel. Die Saterdagnag besoek die kat ons aanmekaar in die kamer, die hele nag deur. Maandagoggend kom ons agter die kat is ook in die bussie. Sommige manne was nie baie beïndruk nie, maar blykbaar sou die kat ’n entjie verder by iemand afgegee word.

Die dames was egter baie ingenome met die kat en het daarop aangedring dat hy die hele pad saam moes toer. Later het ek agtergekom een van die dames wat my WP-serp geleen het, het dit ook met die kat gedeel.

Nog was dit nie die laaste nie. Toe ons die Sondagoggend vanaf Johannesburg vertrek terug Kaap toe en die bokse heerlike beskuit vir die terugtog agter die agterste sitplek van die bussie uithaal, was die kat ook dáár … Die dames het dit gehóór, so tussen die leedwese en humor deur.

Ten slotte

Ek was baie dankbaar dat die groep besluit het om die volgende jaar weer te toer, en die volgende jaar, en die volgende jaar …

Ongelukkig moes ek in 1976 die plaas tydens die wintervakansie bestuur. Ek het egter die aandoptrede op Piketberg bygewoon en die volgende oggend saam oor die Piekenierskloofpas tussen Eendekuil en Citrusdal en ’n paar kilometer verder op pad Clanwilliam toe saamgehardloop.

Later daardie jaar het ek al meer pyn in my regtersy ervaar wanneer ek hardloop. Ná ’n paar dae se bedrus en geen oefening vir drie weke nie, soos die dokter voorgeskryf het, kon hulle met ’n opvolgbesoek ’n afwyking tussen twee rugwerwels bespeur (skynbaar weens ’n fietsongeluk in my skooljare). My fiksheid het ’n ernstige knou gekry en ek het rustiger geraak. God se doel is bereik.

Toe ek met ons 25-jaar-reünie na die meer as 200 lede van Atlete vir Christus kyk, het my hart te klein geword vir wat ek ervaar het – so ’n pragtige, vreugdevolle, uitgesorteerde en dinamiese groep mense met sterk geestelike groei. Dit het weer met die 40-jaar-reünie gebeur.

En dan lees ek in die STAPPIE-nuusbrief wat die Here met en deur hierdie mense doen. Aan Hom ons eer – AHOE!

Mag Atlete vir Christus sy koninkryk nog lank dien.

SPAN

Toerouers

Ds. Bombaai en Tannie San van Rensburg

Atlete

Fanie Richter
Johan Bothma
Gert Esterhuyse
Tommy Immelman
Kobus Laubscher
Wilhelm van Deventer
Gerrit van den Heever
Herman Wolff

Sanggroep

Norman Burger
André Brink
Herman van der Merwe
Hermien Buckle
Ronel Kretchmer
Estie Retief
Tina Strauss

Persoonlike Werkers

Riana Bouwer
Annaline Hugo
Retha Stofberg
Ronelle van der Walt
Lynette Kotzé

Busbestuurder

Hennie Mouton

ROETE

FOTOS

Ons het die hulp nodig van die Atlete vir Christus se oudlede om hierdie argief volledig te maak. As jy enige fotos (met name as jy kan), verhale, nuusberigte of ander info het wat ons hier kan byvoeg, stuur asb vir ons ‘n epos na [email protected]

  • As een van jou ouers deel was van Atlete vir Christus, wil jy nie help om daardie jaar se blad saam te stel nie.
  • As julle ‘n Atlete-huwelik is, stuur asb vir ons ‘n troufoto en dui vir ons die name duidelik aan, sowel as die jaar.